Deur Louis Brittz
My vrou is ‘n groot aktivis en sy het sopas Kilimandjaro saam met ‘n komp vroue geklim om standpunt in te neem teen slawerny en mensehandel. Eks bly sy doen dit en baie bly ek hoef nie saam te gaan nie – ek raak pateties onder 10 grade celsius. Vir haar lang reis en hoë klim het ons 500 liedjies op haar ipod gelaai – alles geestelike musiek en worshipliedjies. Dit het haar bemoedig, gevoed, deur diep valleie gestoot en teen die berg op getrek. Dit het haar hart laat sing en haar gees opgelig tot ver bo die hoogste pieke. So met ‘n wonderlike klankbaan saam het sy Kilimandjaro letterlik deur die ore gewerk.
Jy is ook op reis en hoë berge aan’t klim. Miskien nie so hoog soos ‘Kili’ nie, maar soms voel dit selfs hoër. Enige stukkie van jou lewenspad wat nie helder verlig is nie voel immers soos ‘n onmoontlike berg. Ek glo met my hele hart dat die Here jou deur elke meter van jou reis wil dra en as ‘n oorwinnaar jou vlag op die hoogste pieke wil laat plant. Wat dit moeilik maak om sy teenwoordigheid en in-beheer-wees te sien, is, wel, alles voor jou oë... Die donker. Die diep valleie. Die lang optraandes voor. Die tonne ‘omstandighede’ wat veels te groot vir jou lyk. Mens het nie beheer oor dit wat jy voor jou oë sien nie...
Maar jy het beheer oor dit wat jou ore hoor terwyl jy deur die dryfsand loop.
...
Terwyl jou oë stikdonker nag sien, kan liedjies vol LIG jou hart, gees en gedagtes instroom – totdat dit wat jy hoor soveel groter word as dit wat jy sien. Ek kies om so te leef – om te glo wat ek hoor, en nie wat ek sien nie. Die 500 liedjies op my ipod is vol lig en dit stroom daagliks by my lyf in. Dit verdryf die leuens, verpletter die nag en maak van berge molshopies.Dis waarom ons nog steeds musiek skryf, opneem, vervaardig, bemark en versprei. Dis hoekom ons steeds na nuwe gesalfde Leviete wat Ligliedjies skryf op soek is, en die’s wat dit lankal doen aanmoedig deur hulle werk te ondersteun. Maar ons is min, en die struikelblokke baie. Mense koop al minder musiek, al is dit verskriklik goedkoop. Hulle leen dit, steel dit op die internet of helaas, leef in ‘n blougrys doodsnewel sonder klank en sonder kleur (elke toonhoogte het ‘n werklike kleur en jou onderbewussyn sien dit waarskynlik – sommige mense sien dit met die blote oog).
As jy dalk net af en toe ‘n gospel-cd koop vir ontspanne, lekker-luister vermaak, dan verstaan jy nie hoe God jou ore gebruik om jou gees te verhelder nie. Dan het jy tot nou toe jou hart afgeskeep en jou ore uitgeleen aan ‘n wêreld waarin jy toevallig woon, maar waarvan jy nie deel is nie. Jy en ek is immers vreemdelinge hier, en ons harte verlang na die klanke van ons geestelike geboorteland!
Die Heilige Gees skryf elke jaar die wonderlikste musiek deur Jesus se bruid. Hy laat hulle dit sing en ons vang dit vas op cd’s en dvd’s. Ek hoop jy koop dit soos jy vrugte koop: Vars en sommer baie. Ek hoop jy stap met ‘n jeukerigheid elke week of twee in ‘n gospel-winkel in en blaas ‘n paar blare op jou ore. Of snuffel dit op die internet uit op plekke waar jou kaart kan praat.
As jy ophou gaan ons liedjies letterlik op ons lippe sterf. Hierdie wêreld sal sy kleur verloor en jou hart sal vergeet waar hy eintlik vandaan kom en terug heen oppad is. Moenie so treurig leef nie. Laat jou hart die poel wees waarheen God se liedjies vloei. Jy is die eindbestemming daarvan – dis vir jou bedoel!
My hoop is dat jy in die res van 2012 ‘n waansinnige ondersteuner van gospelklanke en worshipmusiek sal wees.
Laat dit juig!
